This post is in Afrikaans – will translate it soon …

Huldigingswoord by die gedenkdiens van my ma

Sulette Smith (Aletta Susanna Smith 26 Julie 1949 – 12 April 2014)

Vanmiddag echo Paulus se woorde in my gemoed,

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig

Ma was ’n voorbeeld van iemand wat dag tot dag vernuwe is.

Sy is die mens wat die grootste invloed in my en ons familie se lewens gehad het. Ma Sulette was ‘n stil wyse mens wat diep gegrond was in nederige konstante liefde. Sy was standvastig en het diep liefgehad. Sy was die gom in ons gesin wat, tot ek Lollie ontmoet het, geheel-en-al uit manne bestaan het. Lollie noem juis dat vir ‘n ma met net seuns, sy vinnig geleer het hoe om ‘n wonderlike ma vir ‘n dogter ook te wees. Ma se diep omgee het gevloei uit haar liefde vir Jesus en dit was die fondasie van haar lewe. Haar joernale bevat gebede wat getuig van ‘n ryk verhouding met God en dit was die bron waaruit sy gelewe het.

Ma was baie lief vir God se wonderlike Skepping. Honde, katte, voëltjies en plante het haar daaglikse liefde ervaar (natuurlike mense ook). Sy was ’n mens wat die aarde met respek behandel het; behalwe miskien insekte en slange :). Haar hande was behendig en haar liefdevolle aanraking het kleur in die wêreld gebring. Haar tuin en diere is ‘n getuigskrif van haar vernuf. Dit is hierdie respek vir die skepping wat sy vir ons as kinders geleer het, en soos my broer Dirk sê het sy ons empatie vir ander geleer. Sy was ook ‘n voorbeeld van iemand wat met integriteit geleef het en wat nie net gepraat het nie, maar gedoen het.

Ek is spyt ek was nie daar in die laaste twee weke van haar stryd nie maar koester die finale keer wat ek haar gesien het. Sy het op haar gunsteling stoel onder ’n kombersie gesit en ek kon haar voete vryf. Met moeite het sy opgestaan om buitentoe te gaan om na Tayla se nuwe fiets te kyk. Dit is hoe sy was – vol dienende energie.

Sy was ‘n wonderlike ouma en die kinders, “wat haar ouma Su genoem het”, was mal oor haar. Wanneer ons verby ma en pa se huis gery het wou die kinders altyd by ouma Su gaan kuier – dag of nag. Ouma se lewe het diep spore in hulle lewens getrap en sy het altyd sorgsaam vir hulle allerhande kuns projekte gereël. Haar liefde vir lees het beteken dat ons kinders baie boeke by haar gekry het, altyd met ‘n mooi boodskappie in geskryf. Haar liefde vir die skepping en veral vir reën is oorgedra na Tayla wat, soos ouma ook sal sê, “ahhh dit reën … Lekker!” Liam het ma se ontsettende ruik vermoë ontvang asook haar konstante nuuskierigheid.

Een van ma se mooiste eienskappe was haar vermoeë om diep te luister en regtig te hoor. Baie mense het veilig gevoel om in haar teenwoordigheid te gesels omdat hulle in haar ’n ore-oase kon vind. Dit het natuurlik beteken dat baie mense (meeste van julle hier vandag) ma gebel het, en dan het sy laaaaank geluister. Sy het mense se lewens help gesond hoor. As kind het ek soms by haar gesit wanneer sy wasgoed gedoen het (sy was mal oor die reuk van skoon wasgoed), en dan het sy geluister na my gebabbel. Die voorlaaste keer wat sy gehospitaliseer was het sy na ’n paar dae in die kamer al die mense rondom haar geken en kon van hulle stories vertel. Toe ek een oggend gaan kuier het, was daar ’n Chinese vrou langs haar wat met diep waardering ma bedank het omdat sy haar in die hospitaal bygestaan het. Dit was hoe sy was. ’n Genesende lewe.

Gepraat van gesondheid, ons gesin het altyd geglo ma moes ’n dokter geword het; sy het baie van medisyne geweet en toe ons kinders in die huis was het sy “My kind is siek, wat moet ek doen?” uit haar kop geken. Ma was intillegent en ek dink een van die redes daarvoor was haar nuuskurigheid. Sy was baie lief om soos sy sou sê “goedjies op te lees”. Wanneer ons vakansies gaan hou het, het sy altyd die plekke waarna ons sou gaan en die pad soontoe opgelees. Sy het gereeld soos sy sou sê “navorsingtjies gedoen” en om dit te doen het sy haarself bekwaam om nuwe tegnologie te kan gebruik … iphones, ipods, ipads en google kon sy werk, sy was goed daarmee

Ma se roeping was tuisteskepper. Haar vernuf en inteligensie het hande en voete in ons huis gekry in die klassieke sin van tuisteskepper as ‘n kunsvorm. Dit het sy met uitmuntenheid gedoen. Sy was ’n meester kok (die Valley weg kok) en daarom het ons as familie nie baie by restaurante gaan eet nie; pa sou telkens sê dat “niemand sulke lekker kos soos ma kan maak nie” – hy was reg. Sy kon ook ’n spasie op so ’n manier inrig dat mens welkom kon voel – of dit ’n kombers op die gras, ’n tweedehandse karavaan en tent, tuinstoele onder die Jakarandas of vyftien hoërskool seuns in die garage was.  Ma het die kuns geken om ‘n tuiste te skep. Sy was só ’n goeie tuisterskepper dat my pa, wat nie gewoonlik met die Bybel onder die arm rondloop nie, op haar sestigste verjaarsdag uit Spreuke 31 haar lof besing het (hy het wel die onderstreepte dele uitgelos omdat ma nie mal oor naaldwerk was nie),

“Waar sal jy ’n knap vrou kry? ’n Goeie vrou is meer werd as edelstene. Haar man het volkome vertroue in haar.Hy pluk die vrugte van haar werk. Haar hele lewe lank bring sy vir hom net voordeel,nie ellende nie. Sy kry wol en vlas in die hande en verwerk dit met genot.Sy is soos die handelskepe,van ver af bring sy haar kos in. Sy staan op as dit nog nag is. Sy maak ontbyt vir haar huisgesin. Sy werk baie hard. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy werk met die spinwiel, haar hande is bedrywig met die weefbalk. Haar hand is oop vir die armes. Sy is vrygewig teenoor behoeftiges. Sy het innerlike krag en waardigheid. Sy is nie bekommerd oor die toekoms nie. Sy praat met wysheid, sy gee raad saam met liefde. Sy hou toesig oor alles wat in haar huis gebeur. Sy verdra nie luiheid nie.Haar kinders staan open prys haar. Haar man spog met haar: “Daar is baie knap vroue, maar jy is die beste van almal!” Skoonheid is soms misleidend. ’n Mooi voorkoms hou nie vir altyd nie. ’n Vrou wat ontsag het vir die Here verdien om geprys te word. Gee vir haar die waardering wat sy verdien. Laat sy erkenning geniet in die stadspoort op grond van alles wat sy gedoen het.

Ma se liefdevolle diens het pa na die Bybel gedryf … My Pa was baie goed vir ma en het vir haar baie stabiliteit en praktiese liefde gegee. Saam het hulle vir ons as kinders die mooiste voorbeeld en fondament gelê. In haar laaste weke het ma vir pa gesê dat hy ’n goeie man vir haar was. Ons pa beskryf ma as “the love of my life” en noem dat sy nie vol draadwerk was nie. Sy was saggeaard en liefdevol … maar mens moes haar nie onderskat nie want sy was gemaak van staal. Hy het ook haar nooit hoor kla nie.

Ma was ‘n mens wat gedien het en so het sy uit haar pad gegaan om die lewe vir die mense rondom haar makliker te maak. Francois beskryf hoe sy op elke moontlike manier uitgekyk het vir ons kinders en sê “she always had your back”. As sy iets gesien het wat die kinders nodig gehad het, het sy dit maak gebeur – sy het selfs AA vir sommige vir ons uitgeneem 😉 ’n Paar jaar gelede het een van my broers ’n beeldjie wat een van ons vriende vir ons gegee het afgestamp.

Ma was ’n introvert. Sy was skaam in groepe en het nie sommer in die res van die gesin se hewige debatte betrokke geraak nie. Ook in die kerke waar sy was het sy stil-stil gegrond die mense rondom haar geseën. As ’n introvert het sy egter wye invloed gehad. Sy was op haar beste in een-tot-een verhoudings, in hierdie nabyheid het sy geblom. Wanneer sy met mense was, was sy ten volle teenwoordig en dit het mense laat voel dat hulle belangrik is. Diegene wat met ma te doen gehad het, het haar altyd as sorgsaam beskryf en haar baie lief gehad omdat sy aan hulle liefde bewys het. Ma was opgelei as ’n vertaler en ek dink sy was maar altyd ’n vertaler … van God se liefde aan ander mense.

Ek dink vandag daaraan, hoe ma Sulette ’n skaduwee vir ander mense was. Hoe sy soos ’n massiewe Jakaranda boom in ons lewens getroon het; en nog altyd sal troon en só spasie geskep het vir ons om in die koelte te baljaar en groei.

Een van my mentors het eenkeer vir ’n familie in rou gesê dat die beste manier hoe mens iemand wat die tydelike vir die ewige verruil kan eer is om ’n paar van die persoon se eienskappe te onthou en dit in jou eie lewe te laat voortkweek. Ek hou daarvan en dink dit is goeie raad.

Ma, die tuinier het saadjies in die tuine van ons lewens geplant en ons kan haar onthou wanneer hierdie saadjies groei. Ons het hierdie joernaal gekoop waarin ons julle wil vra om van die saadjies wat ma in julle lewens gelos het neer te skryf. Ek eindig met die Spreuk wat pa op ma se sestigste verjaarsdag gelees het:

’n Vrou wat ontsag het vir die Here verdien om geprys te word. Gee vir haar die waardering wat sy verdien. Laat sy erkenning geniet in die stadspoort op grond van alles wat sy gedoen het.